Ons blog hierdie week is vir die eerste keer in Afrikaans. Die rede hiervoor hou verband met ons onderwerp, aangesien ‘n groot aantal van die slagoffers van Herman Pretorius se Ponzi-skema lede van die Afrikaanse gemeenskap is.

Herman Pretorius het die Relative Value Arbitrage Fonds bestuur wat geklassifiseer is as ‘n verskansingsfonds. Hierdie fonds was nie ‘n FSB-goedgekeurde fonds nie en die instrumente waarin die fonds belê het, was nie deursigtig gerapporteer nie.

Die beraamde bedrag wat hierdie fonds nou aan beleggers skuld is R3.1 biljoen. R2.2 biljoen hiervan is die direkte bydrae van beleggers en die verskil van R900 miljoen, tussen die bedrag bygedra en die bedrag geskuld, word moontlik verduidelik deur die fonds se prestasie – hierdie prestasie (word vermoed) is fiktief.

Hoe is dit dan dat so baie beleggers uitgevang is deur hierdie swendelaar? In die geval van ‘n ongereguleerde fonds val die grootste verantwoordelikheid, om te verseker dat die fonds geskik is vir belegging, op die finansiële adviseur en die belegger self. Twee faktore het bygedra tot die oorsig van finansiële adviseurs en beleggers om ordentlike ondersoek in te stel na die bestuur van die fonds.

Die eerste is dat Pretorius vir die finansiële adviseurs ‘n aanvangskommissie van tussen 6% en 10% aangebied het om die fonds aan beleggers te verkoop. Dit het uit die staanspoor beteken dat die behoeftes van beleggers en die aansporing vir die finansiële adviseurs nie in lyn was nie.

Die tweede faktor wat beleggers gelok het na die fonds was die aantreklike opbrengste van 20% tot 30% wat deur Pretorius belowe is. Hierdie hoë en konstante opbrengs behoort by meeste mense die rooi ligte te laat flikker. Dit was egter die verkoopsvermoë van Pretorius en veral die feit dat die fonds al vir jare bestaan het, wat beleggers oortuig en hul vertroue gewen het.

Hoeveel van hul beleggings beleggers gaan terugkry en óf hulle wel enigiets gaan terugkry, bly nog ‘n ope vraag.

‘n Ander nagevolg van hierdie saga is die skending van vertroue wat beleggers in hul finansiële adviseurs plaas. Die beste raad wat ons kan bied vir beleggers is:

  • om nie in ongereguleerde fondse te belê nie,
  • om nie te belê in fondse wat hulle nie verstaan nie en
  • genoegsame inligting aangaande die geskiktheid van ‘n fonds te bekom.

Dit is ook belangrik dat beleggers verstaan presies watter geldelike aansporings adviseurs ontvang vir die produkte wat hulle aanbeveel. Sodoende kan beleggers verseker dat die raad wat hulle ontvang in hul belang is en nie in die belang van die adviseur se bankrekening nie.

Ons gedagtes is met die beleggers en pensioenarisse wat hul kapitaal kwyt is en ons hou die verloop van die ondersoeke in die sake van die Relative Value Arbitrage Fonds noukeurig dop.